Saturday, 31 May 2008

Kliniese Assistent-pos

Goeie nuus: Ek het uiteindelik 'n Kliniese Assistent-pos gekry! Aanstelling vanaf Junie 2008. M.a.w. teen DV 2012 is ek klaar!

Friday, 21 September 2007

Siliêre liggaam melanoom

Ek het bietjie lanklaas iets hier gedoen, maar was besig met die Oogheelkunde Diploma en dus ook oorvol klinieke toe ek teruggekom het.

Die pasiënt waaroor hierdie item gaan, is 'n 69 jarige blanke dame wat by my presenteer het met die klagte van verswakte sig in haar een oog vir ongeveer 6 maande. Sy was toe na 'n optometris toe wat haar na ons kliniek verwys het. Met ondersoek het ons die volgende gevind:

'n Duidelike donker area aan die inferior- nasale kant van die iris (vanaf ongeveer 2 tot 6 uur).

Let ook op dat die pupilrand aan die kant van die donker area effens afgeplat is. (Dit word meer uitgesproke as die pupil gedilateer word soos op die foto hieronder wat ongelukkig met 'n analoog-kamera geneem is).

Hierdie afplatting dui op 'n meganiese "druk- aksie" van die tumor teen die iris.

As die hoek ook met behulp van 'n 3-spieël lens ondersoek word, is dit duidelik dat die hele hoek deur die melanoom betrek word. Dit dui dus op verspreiding van die kanker na die anterior kamer van die oog.



Dit is nogal belangrik om die oog te ondersoek in 'n posisie weggedraai van die letsel soos op die foto regs getoon word:

Let op na die verkleurde area op die sklera met uitgesette bloedvate (ook genoem sg. "sentinel vessels"). Dit is aanduidend van infiltrasie van die kanker in die sklera in.

Vir beplanning van behandeling is dit nodig om die grootte van die tumor te bepaal m.b.v. B-skandering en MR-skandering.

Dit is uiters belangrik om die pasiënte behoorlik verder te ondersoek vir enige sistemiese verspreiding. Standaard word 'n borskas X-straal en lewersonar gedoen en dan natuurlik bloed getrek vir lewerfunksies.

Hierdie pasiënt het gelukkig geen metastase gehad nie en ek het haar na Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad verwys vir plaak terapie ("ocular brachy therapy"). Tydens hierdie prosedure is die mediale en inferior rectus spiere losgemaak en geroteer om die plaak op die area van die tumor te kan plaas. Die plaak word dan gelaai met jodium-125 en op die area vasgewerk. Afhangende van die dosis en tydsduur deur die onkoloog bepaal, word die plaak dan in posisie gelos en die pasiënt in 'n bestralingsveilige kamer afgesonder. Na die vasgestelde tydperk word die plaak weer verwyder en die genoemde spiere weer geheg.

Dit is nog te vroeg om die uitkoms te bepaal, maar ons sal haar steeds voortdurend moet opvolg met 6-maandelikse ondersoek, lewerfunksies, lewersonar en borskas X-strale.

Friday, 20 July 2007

'n Uitsonderlike gebeurtenis

Tydens ons kliniek gister was daar 'n uitsonderlike gebeurtenis: 'n Pasiënt van 87 jaar oud wat kom met die geskiedenis dat sy byna 30 jaar gelede haar katarak operasie gehad het, MET 'n intra-okulêre lens (IOL)! Hoekom dan so uitsonderlik? Wel, intra-okulêre lense is vir die eerste keer ingeplant in Suid-Afrika in die laat 1970's! Hierdie pasiënt is dus een van die vroeë kandidate gewees.

Sy het aan beide oë katarak operasies gehad, maar slegs 'n IOL in die linkeroog. Ons kan haar dus tans die geleentheid bied om 'n nuwerwetse IOL in die regteroog in te plant.

Wednesday, 20 June 2007

Kongres toe!

Ons was vanaf 13 tot 19 Junie 2007 in die Kaap vir 'n kongres van SASCRS (South African Society for Cataract and Refractive Surgery). Dit was egter die ideale tyd om ook 'n vakansietjie in te werk en ons besluit toe om al die oggend van die 13de Junie af te vlieg. Dit het ons darem bietjie tyd gegee om deur die wynland, skiereiland, ens. te toer terwyl ons by 'n baie oulike gastehuis in Bloubergstrand gebly het (La-Paloma).

Die kongres was baie interessant, met menige nuwe ontwikkelings op die gebied van katarak chirurgie wat ten toon gestel is. Ek het ook 'n geleentheid gehad om op Alcon se posterior-segment simulator te "speel" -- iets wat nogal eienaardig is by 'n anterior-segment georiënteerde kongres...

Ek sien werklik uit na die OSSA kongres in 2008.

Tuesday, 8 May 2007

GKOft (SA) Deel 1 uitslae

Dit is met die grootste blydskap in my hart dat ek gistermiddag (sowat 'n uur na my laaste mondelinge eksamen) verneem het dat ek GKOft(SA) se Deel 1- eksamen finaal geslaag het.

Ek kan alleen in nederigheid my hemelse Vader dank vir Sy leiding. Dankie weereens aan my liewe vrou en ook al my ander familie, vriende, kollegas en kennise wat my bygestaan het.

Kliniese Assistent-pos hier kom ek...... :-)